Thursday 5 January 2012


GEBED:

2 Korintiërs 4:1-18
In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie (2 Kor 4:8-9).
Hemelse Vader, dankie dat ek mag weet dat, alhoewel U
my nie van swaarkry vrywaar nie, U my nooit alleen sal los nie,
en dat ek die versekering het dat U my deur die swaarkry sal dra.


Galasiërs 3:1-6
Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag ein­dig? Was al julle swaarkry dan verniet? Dit kon tog nie ver­niet gewees het nie (Gal 3:3-4).
Here, ek is jammer dat ek self al gewonder het of my swaarkry
verniet was – help my om positief te bly en my seëninge wat nog
oorbly te tel sodat ek kan weet wat U my uit die swaarkry wil leer.

Deuteronomium 8:1-8
“Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed … Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom” (Deut 8:3).
Here, dankie dat ek weereens kon besef dat U vir my sorg
wanneer dit moeilik gaan, én dat die stuk swaarkry van die oomblik
my leer om aan U gehoorsaam te wees.

1 Petrus 5:8-11
God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak (1 Pet 5:10).
Here Jesus, op die oomblik voel ek ook asof ek aan die sink is in die stormsee van my omstandighede –vat my hand asseblief en rus my toe met u krag en genade.

Galasiërs 4:8-20
Julle onthou mos hoe dit gekom het dat ek die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het. Dit was deurdat ek siek geword het (Gal 4:13).
Hemelse Vader, help my asseblief om u plan vir my lewe in my teleurstellings te herken.

Vertrou God! = Hebreërs 11:11-16
Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is (Heb 11:13).
Here, soms raak ek baie moedeloos as ek in U bly glo en
nie kan sien dat u beloftes in my lewe in vervulling tree nie.
Help my om aan te hou glo tot u belofteseendag vir my sal waar word.

Lukas 22:39-46
Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied!” (Luk 22:41-42.)
Vader, dankie dat U in my lewe dié dinge wat U haat toelaat,
sodat die dinge wat U liefhet sal kan realiseer.
Ons het net weer eens bewus geword dat gebed een van die grootste uitdagings is in enige vorm van geestelike werk.  Dit is maklik en lekker om gebedspunte te bespreek, daaroor te spekuleer en planne te maak en dit dan aan die einde net in een sinnetjie aan die Here te noem. 

Ons kry egter `n ander prentjie van gebed as ons na Jesus, Paulus en die ander Godsmanne en -vroue kyk.  Dit is God se wil dat ons die gebedspunte met Hom moet bespreek en Hom dan te vra na oplossings.  Gebed is om `n intieme verhouding met God op te bou tot so `n punt dat dit vir jou beter is om een dag in die teenwoordigheid van God te wees (Sy tempel) as `n duisend jaar daar buite (Dawid).  Dit impliseer opofferings en harde werk.  Jy raak ook maklik moedeloos en/of oorreed om daarmee te stop.  Amper soos wanneer jy weer vir die eerste keer alleen begin oefen - draf, hardloop of enige ander individuele en fisieke sportsoort.  Dit is maklik om handhoek in te gooi, veral as jy alleen is en daar niemand is wat jou medeverantwoordelik hou nie.  Kom ons help en motiveer mekaar om getrou in gebed te staan.  Dit sal ons aanmoedig om onsself geestelik fiks te kry.

No comments:

Post a Comment