Thursday 5 January 2012


“My God is so groot, so sterk en so magtig, daar is niks wat my God nie kan doen…” Vir ’n oomblik het ek nog glimlaggend na die groep laerskoolkinders gestaan en kyk wat uit volle bors (en met oordrewe bewegings) hierdie liedjie staan en sing. Dit is toe dat dit my skielik tref.

Besef ons werklik hoe groot die God is wat ons aanbid?

So maklik begin ons God blameer as dinge in ons lewens verkeerd loop. En tog, besef ons werklik wie die God is wat ons blameer? Besef ons dat God, die Skepper van die heelal ons binne ’n oogwink van die aarde af kan wegvee – maar dat Hy dit nie doen nie omdat Hy ons liefhet?

Dink vir ’n oomblik. Wie is God vir jou? As iemand jou vandag sou vra om Sy grootheid, sy IMMENSITEIT aan hulle te verduidelik? Wat sal jou antwoord wees? Toe, dink vir ’n oomblik.

Hier is twee skrifgedeeltes wat jou kan help. Een, uit die Psalmdigter se pen. En twee, uit die boek van Job.

Psalm 8.“Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het... As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis. Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!”

Luister ook na Job se vriend, Elihu wat Job te midde van sy swaarkry herinner aan wie God is. Job 37.“Hoor hoe bulder die stem van God, hoe dreun dit uit sy mond! Hy laat dit losbreek in die hemelruim, Hy laat dit blits tot by die uithoeke van die wêreld, en dan kom die donderslag... Hy stuur die onweer in volle krag wanneer Hy sy stem laat hoor. Met sy stem laat God magtige dinge gebeur... Hy laat alle mensewerk tot stilstand kom sodat alle mense sy werk kan leer ken... Die stormwind kom uit sy blyplek, die yswinde wat koue bring... Hy stuur sy weerligte in die wolke in. Hy laat die wolke in die rondte maal, hulle doen wat Hy bepaal, hulle gehoorsaam sy bevele die wêreld oor. God stuur die storm óf om te straf óf om vir die aarde te sorg óf om sy liefde te toon... Uit die noorde kom die goudglans, die majesteit van God is ontsagwekkend. Daarom dien die mense Hom, en sien Hy nie dié raak wat dink dat hulle wysheid het nie.”

Ek vra jou weer: Wie is God vir jou? En wat sal jou antwoord wees as iemand jou vandag kom vra om God se grootheid, sy IMMENSITEIT aan hulle te verduidelik? Begin vandag om ’n lysie te maak van alles waarvoor jy in jou lewe dankbaar kan wees. Onthou, elke goeie gawe is ’n geskenk uit God hand – nie omdat jy dit verdien nie, maar juis omdat Hy jou ontsaglik liefhet. Sê vir Hom dankie. Sterkte!


Vader God,dankie dat U my ken en my liefhet. Dankie, dat ek met oortuiging kan weet dat U nie net weet hoeveel hare op my kop is nie, maar dat my naam in U handpalm gegraveer is. Help my om te midde van elke krisis te onthou hoe groot en magtig U is en dat GEEN krisis ooit vir U te groot is om my uit te help nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

                                                                *****************************************************************************

Dit was laatmiddag toe Dawid sy slingervel met vyf klippe optel en die reus Goliat in die vallei tegemoet stap. Binne hom het sy maag gedraai, maar dit was nie uit vrees nie. Dawid het geweet dat sy krag in God lê. Hy het geweet dat God, die bron van sy hoop, hom nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie.

Luister weer na Dawid se woorde waar hy voor die reus, Goliat staan. 1 Samuel 17:45: “Jy kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel... Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf kan afkap!” Minute later tref Dawid se klip die reus se voorkop voordat Goliat vooroor op sy neus val. Morsdood.

Waar die ander Israeliete die reus gesien het, het Dawid na God gekyk. Wat is jou perspektief wanneer ’n reus in jou lewe jou begin koggel – want ja, ons almal het een of ander tyd ’n reus wat beveg moet word. Dalk voel jy hoe joune in jou nek blaas waar jy nou voor jou rekenaar sit. Jou reus dra dalk nie ’n spies of ’n swaard saam met hom nie, maar sy dra ’n kort rokkie en sy weet hoe om jou met haar verleidende woorde om haar vinger te draai – terwyl jou vrou by die huis sit. Of dalk is jou reus in die vorm van daardie bottel alkohol wat jy onder jou wasbak wegsteek. Of dalk is dit jou kinderloosheid, jou finansiële krisis, jou siekte, ’n krisis met jou kind of jou vrees dat jy nooit ’n huweliksmaat sal kry nie.

Gaan jy na jou reus kyk of gaan jy soos Dawid vir God raaksien? Gaan jy jou vyf klippe van hoop optel?

JOU 5 KLIPPE VAN HOOP:
1.     Psalm 23:4: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my...”
2.     Klaagliedere 3: 25-26. “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mense wat na sy wil vra, dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here”
3.     Romeine 15:13. “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.”
4.     Psalm 34:17-22: “As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedelose. Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal. Die Here sorg vir die hele liggaam van die regverdige: geen been word gebreek nie.”
5.     Zephaniah 3:17. “The LORD your God is with you, he is mighty to save. He will take great delight in you, he will quiet you with his love, he will rejoice over you with singing.”
 Dawid het vyf klippe gehad. Jy het vyf beloftes van hoop wat jy vandag in jou hart kan bêre. En wanneer jou reus jou weer begin koggel, kyk hom vierkantig in die oë terwyl jy hom herinner dat God, die bron van jou hoop reg langs jou staan. Begin swaai solank jou slingervel. Jy sal verbaas staan oor hoe gou jy sal moet nader hardloop om jou reus se kop te gaan afkap - waar hy reeds op sy neus lê. Sterkte!


Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat ek nooit alleen is nie. Help my vandag om te onthou dat U, die bron van my hoop veel groter is as enige reus (wat dit ook al is) wat ek ook al in die gesig mag staar. Gee my krag vandag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

No comments:

Post a Comment