Thursday 5 January 2012


Here Jesus,
as ek U liefhet, sal my siel na U soek,
            maar hoe kan ek U soek as my liefde vir U
nie lewendig gehou is tot nou toe nie?
Het ek U dalk slegs lief omdat U vir my goed is
            en slegs omdat net U vir my goed kan wees?
Dit sou gepas wees dat U my ignoreer,
            want ek is gemeen en selfsugtig;
            tog soek ek na U,
            en wanneer ek U vind, is daar nie toorn wat my verteer nie,
            slegs wonderlike liefde.
U staan soos ʼn rots tussen my siel en die verskroeiende son,
            en ek leef soos ʼn uitverkorene in die koel beskutting daarvan.
Wanneer my gedagtes sonder U is,
            bring dit niks anders as bedrog en misleiding voort nie;
wanneer ek liefde betoon sonder U
            sien mens niks anders as dooie werke nie.
O, hoe nodig het ek dat U in my sal bly!
            Al kan my oë  U nie sien nie,
            leef ek met geloof in die Een wie se gesig vir my
            helderder as duisend sonne is!
Wanneer ek sien dat alle sonde in my is, is alle skande myne;
            gee dat ek sal weet dat alles wat goed is in U is,
en alle heerlikheid U toekom.

Weerhou my van die fout om te dink dat U in heerlikheid verskyn
            wanneer ʼn vreemde lig my hart vul,
            asof dit die heerlike werking van genade sou wees,
            maar laat my sien dat U Uself waarlik openbaar
            wanneer U al my persoonlike roem
            en al die eer, plesier en goedheid van die wêreld oortref.
Die Seun kom in heerlikheid te voorskyn
            wanneer Hy Homself openbaar as die Een wat die hele skepping oortref,
            die mens laat besef hy is geestelik arm
            en hom help om die goeie in Hom te vind.
Gee dat ek nie op myself sal vertrou nie,
maar sal sien dat U alleen alles vir my is.

*************************************************************

Vader van Jesus,
dit is weer dagbreek,
maar sonder U lig in my kan ek die lig daar buite nie benut nie.
Gee my die reddende lamp van U Gees sodat ek U kan sien,
              die God van my redding, die Vreugde van my siel,
              wat in liefde oor my verheug is.

Aan U waaksame sorg gee ek gee my hart oor,
              want ek ken sy valsheid en krag;
bewaar elke ingang van my hart teen die listige vyand,
gee dat ek sy dodelike lis dadelik sal raaksien,
help my om sy onbeskaamde vermomming as ʼn engel van die lig te herken
              en hom weg te jaag.

Mag my woorde en dade ander na die hoër weë van geloof en liefde aanlok!
Laat dié wat nog draal deur my voorbeeld aangespoor word
              om meer toegewy te wees!
Laat onbekeerdes daartoe oortuig word om U met blydskap te leer ken!
Laat dié wat huiwer en besluiteloos is, deur my ywer vir Jesus
              gewaarsku word teen die oordeel wat kom!
Laat ek U genade weerspieël
              en so die vreugde van diens aan U vir ander wys;
              laat my lippe welklinkende simbale wees wat U lof verkondig;
              laat my hemelgesindheid soos ʼn stralekrans om my skitter
                        en ʼn lamp van welwillendheid op my pad skyn.
Leer my die kuns om aan tydelike dinge aandag te gee
              met ʼn hart wat op die ewige dinge ingestel is.
Stuur my uit om die onkundiges, armes en ellendiges te help.

Help my om te lewe soos Jesus gelewe het --
              Hy, my enigste Verlosser en volmaakte rolmodel,
              Sy denke die inwoner in my gees,
              Sy sagmoedigheid die kleed wat my bedek.
Laat ek veral gelukkig tussen die armes van gees wees,
              my vreugde by die sagmoediges vind.
Laat ek ander altyd hoër ag as myself
              en in ware nederigheid die erfenis van twee wêrelde verkry.

No comments:

Post a Comment